KragDag 2026
6-8 Augustus 2026
8:00 - 17:00
Nog 0 dae

Uitstaller Terme en Voorwaardes, Reëlings en Reëls
KragDag 2026


Hierdie dokument bevat meeste van die algemene inligting wat nodig is vir ondernemings om van kennis te neem om uit te stal by KragDag.

Deel asseblief die skakel na hierdie bladsy/dokument met al die ekspo-bemanningslede van julle onderneming ten einde hulle te vergewis van die reëls en reëlings. Uit die opskrifte sal dit duidelik wees watter punte nie op julle onderneming van toepassing is nie en dus oorgeslaan kan word in die deurgaan van die dokument.

Let asseblief daarop dat die inhoud van hierdie dokument van tyd tot tyd gewysig of bygewerk kan word.

1. Belangrike Datums

  • 31 Maart 2026 - Verval van die voorkeurgeleentheid om op dieselfde plek uit te stal as die vorige jaar, vir ondernemings wat nie voor hierdie datum weer bespreek en betaal het nie.
  • 26 Junie 2026 - Sluiting van aansoeke om uit te stal.
  • 17 Julie 2026 - Uitstaller Toeligtingsdag.
  • 6-8 Augustus 2026 (Donderdag – Saterdag) – KragDag 2026 Ekspo.

2. Aansoekproses

  • Die kronologiese verloop van die aansoekproses lyk soos volg:
    • Die onderneming vul sy uitstalaansoekvorm in en dien dit in.
    • Die aansoek word deur KragDag oorweeg vir goed- of afkeuring.
    • KragDag reik ‘n faktuur uit aan goedgekeurde aansoekers.
    • Die onderneming betaal vir sy uitstalling.
    • KragDag allokeer ‘n uitstalruimte aan die onderneming.
    • Die onderneming registreer sy uitstalbemanning.
  • ‘n Vorige jaar se deelname is nie ‘n outomatese goedgekeuring om weer uit te stal nie.

3. Finansiëel

3.1 Lewering van faktuur
  • Die lewering van 'n faktuur bevestig die goedkeuring van ‘n aansoek om uit te stal.
  • Alhoewel die goedkeuring om uit te stal nie outomaties na die sluitingsdatum verval indien die onderneming nie sy uitstalfaktuur betaal het nie, kan KragDag die goedkeuring te enige tyd na die sluitingsdatum sonder kennisgewing terugtrek en kan KragDag die posisie aan ‘n ander aansoeker toeken.
3.2 Aansoeke na die sluitingsdatum
  • Vir aansoeke waarvan die betaling eers na die sluitingsdatum ontvang word, mag dit wees dat nie al die items waarvoor in die pakket betaal word, meer beskikbaar sal wees nie en dit deur die onderneming verbeur sal word.
3.3 Kansellasies en Terugbetalings
  • Vir skriftelike kansellasies wat voor die sluitingsdatum ontvang word, sal 'n administrasiefooi van 10% van die uitstalfaktuur gehef word.
  • Daar sal geen terugbetaling van fooie wees vir kansellasies na die sluitingsdatum nie.
3.4 Spesiale versoeke na sluiting van aansoeke
  • Daar word op die aansoekvorm spesifiek voorsiening gemaak vir die aandui van spesiale vereistes en voorkeure. Uitstallers wat nie hiervan gebruik maak nie en dan na sluiting van aansoeke sodanige versoeke opper, loop die risiko dat hulle nie in hulle behoefte geakkommodeer kan word nie. Indien daar wel aan hulle versoek voldoen kan word, sal dit slegs geskied nadat 'n addisionele administrasiefooi van R400 betaal is.
3.5 Nie-betaling van fakture
  • Ondernemings wat nie volledig vir hulle uitstalling betaal het nie, sal nie toegelaat word om uit te stal nie.
  • Uitstallers wat vir ‘n uitstalruimte bespreek het, maar nooit betaal het nie, sal van KragDag se uitstallerdatabasis geblok word. Indien sodanige onderneming in die toekoms weer wil uitstal sal ‘n 50% bybetaling op sy uitstalruimte gehef word.

4. Allokering van uitstalruimtes

4.1 Bepalings ten opsigte van gekommunikeerde uitstalruimtevoorkeure
  • ‘n Onderneming kan ‘n voorkeurplasing op sy aansoekvorm aandui. Dit bly egter slegs ‘n voorkeur en is geen versekering dat die uitstalruimte(s) wel aan die onderneming geallokeer sal word nie.
  • Uitstalruimtes kan slegs toegeken word nadat betaling ontvang is. Indien ‘n onderneming nie tevrede is met hulle plasing nie, kan hulle binne sewe dae na die allokering van ‘n uitstalruimte aan die onderneming, KragDag daarvan in kennis stel ten einde te probeer om die onderneming se behoeftes te akkommodeer. Indien daar nie oor ‘n geskikte uitstalruimte ooreengekom kan word nie, kan die onderneming sy aansoek kanselleer en sal sy gelde terug betaal word.
4.2 Uitstalruimtenommers
  • Daar word ‘n spesifieke uitstalruimte aan elke uitstaller toegeken. Die uitstalruimtenommer van ‘n ondeneming kan op KragDag se aanlyn Uitstallerstelsel gevind word en die plasing daarvan word op die terreinplan aangedui. (Klik HIER om op die stelsel in te teken. Kies dan julle uitstalling en klik op "Uitstalruimte".)
4.3 Eerste aanspraak vir bestaande uitstallers
  • KragDag uitstallers wat hulle aansoekvorms voor 31 Maart indien en betaal, het ‘n voorkeuraanspraak op dieselfde uitstalruimte wat hulle vir die vorige ekspo gehad het. Indien 'n onderneming nie voor hierdie datum betaal nie, al het hy sy aansoekvorm ingedien, verbeur hy die reg op dieselfde staanplek en word die uitstalruimte ook beskikbaar vir ander aansoekers.
  • 'n Onderneming kan wel ‘n ander uitstalruimte as voorkeur aandui, maar die allokering daarvan is onderhewig aan die beskikbaarheid daarvan (ook in terme van hierdie einste beleid vir ander uitstallers).
  • Bogenoemde reëling sal onderhewig wees aan sekere strategiese oorwegings van KragDag, soos terreinuitlegaanpassings, die akkommodering van borge en langdurige of permanente vennote op voorkeurliggings.
4.4 Toekenning van uitstalruimtes
  • Met uitsluiting van die voorkeurbesprekings hierbo, word uitstalruimtes op 'n eerste-betaal-van-die-volledige-uitstalbedrag basis toegeken.
  • Ondernemings wat per debietorder betaal, word vir die doeleindes van uitstalruimteallokering, geag as volledig betaal na die eerste debietorderaftrekking.
  • Daar sal sover moontlik gepoog word om uitvoering te gee aan liggingsvoorkeure, maar met die beperkings soos hieronder uiteengesit.
  • Ondernemings wat enkel-uitstalruimtes bespreek het, sal nie op hoekstalletjies geallokeer word nie.
  • Vir ondernemings wat twee of drie uitstalruimtes bespreek het en op ‘n hoek wil staan, sal net een van die uitstalruimtes op ‘n hoek geakkommodeer word, indien daar nog geskikte hoekuitstalruimtes beskikbaar is.
  • Ondernemings wat vier of meer uitstalruimtes bespreek het, se uitstaltruimtes kan twee hoekuitstalruimtes insluit, indien daar nog geskikte hoekuitstalruimtes beskikbaar is.
4.5 Uitsonderings
  • In uitsonderlike omstandighede mag dit noodsaaklik wees om ‘n uitstalruimte vir ‘n bepaalde onderneming uit te hou. Waar dit gebeur moet betaling binne sewe dae, of sodanige korter tydperk as waarvoor kennis gegee word, geskied, by gebreke waaraan sodanige reservering sal verval.

5. Voorbereiding vir die ekspo

5.1 Uitstaller Toeligtingsdag
  • 'n Uitstaller Toeligtingsdag sal op Vrydag 17 Julie 2026 om 9:00 op die ekspoterrein gehou word. Probeer asseblief hierdie geleentheid bywoon. Tydens hierdie geleentheid sal voorsiening gemaak word vir die volgende:
    • uitstallers sal die geleentheid hê om hulle te vergewis van die ligging van hulle uitstalruimte op die terrein, met die oog op hulle voorbereidings.
    • toeligting sal verskaf word oor die logistieke vereistes en reëlings vir die ekspo.
    • uitstallers sal geleentheid hê om enige navrae of onduidelikhede uit te klaar.
5.2 Skud jou vere reg
  • ‘n Afsonderlike Skud jou vere reg dokument (volg binnekort) verskaf wenke en nuttige inligting wat julle kan help om vir julle uitstalling by die ekspo voor te berei, ten einde die beste waarde uit deelname aan die ekspo te bekom.
5.3 Ingenieursertifikaat
  • Indien julle onderneming van plan is om ‘n struktuur op julle uitstalruimte op te rig wat ‘n ingenieursertifikaat gaan vereis (enige struktuur/tent hoër/groter as 3m), kan kostes bespaar word deur vooraf met KragDag te skakel vir insluiting in die terrein se algemene sertifikaat. Koste vir insluiting by sertifikaat is R500.

6. Registrasie van uitstalbemanning

  • Bemanning kan geregistreer word via HIERDIE (volg binnekort) skakel.

7. Opslaan van uitstalling

7.1 Slaan vroegtydig voor die ekspo op
  • Ten einde beperkte spasie-uitdagings en die gedrang van die ekspo-oggend te vermy, word uitstallers versoek om hulle uitstallings reeds op Maandag (3 Aug 2026) tot Woensdag (5 Aug 2026) op te slaan.
  • Daar sal van Maandag- tot Sondagaand wagte op die terrein wees wat omsien na die terrein en opgeslaande uitstallings.
7.2 Aanmeldingspunt
  • Met julle aankoms om julle uitstalling op te slaan moet julle bemanning by die toegangshek aanmeld ten einde te verseker dat die toegekende uitstalruimte nommer onveranderd is sedert die allokering daarvan. Die KragDag personeel sal ook help om julle uitstalruimte op die terrein uit te wys.
7.3 Bly in die uitstalruimtegrense
  • Wees asseblief konsidererend teenoor julle mede-uitstallers en hou binne julle onderneming se uitstalruimtegrense.
  • Moet asseblief nie enige toue in die loopvlak span waar die besoekers loop nie.
7.4 Wees versigtig vir waterpype en kraglyne
  • Die ligging van ondergrondse waterpype en kraglyne word met rooi verflyne op die gras aangedui. Moet asseblief nie penne binne 50cm vanaf die lyn inslaan nie. Die herstel van enige skade as gevolg van die oortreding hiervan sal vir die koste van die uitstaller wees.
7.5 Kragpunte
  • Slegs uitstallers wat op hulle aansoekvorms vir krag aansoek gedoen en daarvoor betaal het, sal van ‘n kragpunt gebruik mag maak. Kragpunte word met rooi kolle op die terreinplan aangedui – gebruik dit om te bepaal hoe ver die naaste punt van julle uitstalruimte is. Bring asseblief ‘n eie verlengkoord saam om julle uitstalling met die kragpunt te verbind – ‘n 20-meter koord behoort in meeste gevalle voldoende te wees. KragDag se elektriese span sal alle elektriese koppelings kontroleer vir veiligheid.
  • Sorg asseblief dat verlengkoorde in ‘n goeie toestand is en die korrekte lasdravermoë het en dat toebehore nie die verbruikskapasiteit waarvoor bespreek is, oorskry nie.
7.6 Waterpunte
  • Waterpunte word met blou kolle op die terreinplan aangedui. Maak asseblief geisers en tenks reeds teen Woensdag vol, aangesien die waterkapasiteit op die terrein beperk is.
7.7 Tafels
  • Tafels (ongeveer 1 800 x 700 mm) sal slegs voorsien word aan uitstallers wat vooraf daarvoor bespreek het. Uitstallers kan tafels kom afhaal by die Inligtingstoonbank en moet dit weer daar kom terughandig na afloop van die ekspo. Indien tafels nie terug ingeboek word by die Inligtingstoonbank nie of beskadig is, sal die uitstaller verantwoordelik wees vir die vervangingskoste van die tafel.
7.9 Vurkhyser
  • ‘n Vurkhyser sal van Maandag tot Woensdag (3 tot 5 Augustus) op terrein wees vir aflaai van groot items en weer op Maandag 10 Augustus vir die oplaai daarvan.
7.10 Verbeuring van uitstalruimte
  • Uitstallers wat teen 8:00 op Donderdag 6 Augustus 2026 nie hulle uitstalruimte beset het nie, sal hulle uitstalruimte verbeur en dit sal geherallokeer word.
7.11 Veiligheid
  • Daar sal vanaf Maandagaand tot Maandagoggend (3 tot 10 Augustus) wagte aan diens wees wat die terrein patrolleer.
  • Uitstallers mag nie hulle eie wagte op die terrein laat oorbly nie, maar indien ‘n onderneming 'n statiese wag by hulle uitstalling verlang, kan ‘n wag by KragDag se diensverskaffer bespreek word. Skakel met die KragDag kantoor om dit te reël.

8. Tydens die ekspo

8.1 Open van hekke vir uitstallers
  • Op Donderdag tot Saterdag (6 tot 8 Augustus) sal die hekke vir die uitstallers om 6:00 open.
8.2 Ekspotye en uitstalverpligting
  • Die hekke open om 8:00 vir besoekers – uitstallers se uitstallings moet dus 07:30 gereed wees om die besoekers te ontvang.
  • Ter wille van die besoekers is uitstallers (ingesluit junior entrepreneurs) verplig om al drie ekspo dae van 8:00 tot 17:00 uit te stal.
  • Uitstallers mag hulle uitstallings eers na 17:00 op Saterdag 8 Augustus afbreek en van die terrein verwyder en daar sal geen motors voor 17:00 op die uitstalterrein toegelaat word of om dit te verlaat nie, met uitsondering vir die veerasuitstallings, wat van 15:00 op Saterdag hulle vee met voertuie kan verwyder. Daar word ‘n ernstige beroep op uitstallers gedoen om hieraan gehoor te gee ter wille van veiligheid en uit respek vir ons laatmiddag besoekers.
8.4 Toegang van uitstalbemanning tot die terrein
  • Uitstalbemanning wat nie vooraf geregistreer het nie, sal soos enige besoeker R120 ingangsgeld betaal.
8.5 Inligting en aanmelding van probleme
  • Indien daar enige onsekerheid bestaan, of hulp benodig word, besoek asseblief die Inligtingstoonbanke (gemerk op die kaart met ‘n “I”).
8.6 Vullisverwydering
  • Elke uitstaller word versoek om sy eie swartsakke saam te bring en gevulde swartsakke na 17:00 in die middag voor hulle uitstalruimte te laat (moet asseblief nie vol swartsakke in die terreinasblikke plaas nie). Die swartsakke sal voor die oopmaak van die ekspo die volgende oggend deur SkipGo verwyder word.
8.7 Brandbeskerming
  • Ons moedig uitstallers aan om as deel van ons self- en mekaarhelp brandplan elkeen 'n brandblusser by sy uitstalling te hê. Vir kosstalle wat met oop vlamme werk, is 'n brandblusser verpligtend en word ’n brandkombers aanbeveel. Daar kan ook vooraf by Speedies (012 803 5278), wat ook by KragDag uitstal, ‘n brandblusser bestel word wat met aanvang van die ekspo by hulle afgehaal word. Alhoewel KragDag intensiewe voorsorg teen brandmoontlikhede tref, word ’n beroep op uitstallers gedoen om bystand te verleen met die bestryding van enige brand wat op die terrein mag ontstaan.
8.8 Weer
  • Alhoewel die ekspo nie in die reënseisoen plaasvind nie, is dit 'n opelug ekspo. Maak asseblief die nodige voorsienings ingeval van reën.

9. Verkeer en Parkeer

9.1 Verkeersvloei
  • Toegang tot die terrein is so uitgelê dat alle verkeer na en van die ekspoterrein in een rigting vloei.
  • Hou ook asseblief by ‘n kloksgewyse vloei deur die terrein tydens die opslaan- en afslaantye.
  • Voor en tydens die ekspo-opstelling moet asseblief met die aflaai van goedere by julle uitstalruimte so geparkeer word dat die verkeersvloei nie geblokkeer word nie.
9.2 Parkering
  • Daar is nie ‘n afsonderlike parkeerarea vir uitstallers nie. Die parkeerterrein beslaan die area suid van die terrein.
  • Uitstallers wat nie nodig het om goed met hulle voertuie af te laai nie, kan met hulle aankoms direk in die parkeerterrein parkeer.
  • Geen voertuig sal na 07:30 op die terrein toegelaat word nie en alle voertuie moet teen 08:00 van die terrein verwyder wees.
9.3 Wegsleep van voertuie
  • Voertuie wat tydens ekspo-tye op die terrein is, of wat op ongemagtigde plekke, of op padrante parkeer word, sal weggesleep word.

10. Kampering, verblyf en oornagpersoneel

  • Geen uitstaller of enige personeel van uitstallers sal toegelaat word om op die perseel te oornag nie.
  • Persone wat wil oornag kan van die aangrensende kampterrein gebruik maak. Vir die wat dit verkies, is daar ook ingerigte tente beskikbaar. Vooraf BESPREKINGS is noodsaaklik.

11. Afslaan van uitstalling

  • Uitstallers is welkom om hulle uitstalling eers Maandag (die 10de) te kom afslaan.
  • Alle stalletjies moet volledig verwyder wees teen Dinsdag 11 Augustus.
  • Laat asseblief julle uitstalruimte netjies agter, en let spesiaal op om enige kabelstroppe (cable ties) of sigaretstompies te verwyder.
  • Sondag: Let daarop dat die Gereformeerde Gemeente Diamantvallei Sondae om 9:00 ‘n erediens op die terrein hou en ons versoek uitstallers om nie op Sondag hulle uitstallings te kom afslaan nie. Kampeerders is welkom om die diens by te woon.

12. Vrywaring van Aanspreeklikheid

  • Deur die uitstallerbespreking bevestig 'n uitstaller dat KragDag en sy organiseerders, werknemers en kontrakteurs nie aanspreeklik gehou kan word vir enige persoonlike beserings, afsterwe van enige persoon of verlies van of skade aan enige eiendom van enige aard nie, ongeag die oorsaak daarvan en word dit ook nie deur KragDag se publieke aanspreeklikheidsversekering gedek nie. Indien verlang is versekering teen sodanige risiko’s elke uitstaller se eie verantwoordelikheid.

13. Reëlings ten opsigte van verskillende uitstalkategorieë

13.1. Vee-ras Tentoonstelling
13.1.1. Landbou-ekspobestuurder
13.1.2. Dieregesondheid
  • Geen siek diere sal op die terrein toegelaat word nie. Die Biosekuriteit-Veeartsverklaringvorm moet deur alle vee-rasuitstallers ingevul en by die Landbou-ekspobestuurder ingehandig word.
13.1.3. Aflaai van vee
  • KragDag voorsien laaibanke vir die aflaai van die diere.
  • Alle voertuie wat vee- en bybehore aflewerings doen, moet ‘n toegangspermit in die voorruit van die voertuig vertoon om toegang tot die aflaaiterrein te verkry. Aansoek van permitte, met vermelding van die bestuurder se naam en die voertuig se registrasienommer, moet voor 31 Julie 2026 gedoen word by die Landbou-ekspobestuurder.
  • Sleepwaens kan op die plek wat daarvoor geallokeer is, gestoor word.
  • Geen voertuie sal tydens ekspo-ure op die terrein toegelaat word nie, met die uitsondering dat uitstallers wat vooraf dit versoek die geleentheid sal hê om hulle diere op die Saterdag reeds om 15:00 te verwyder.
13.1.4. Diereversorging
  • KragDag voorsien 3m x 3m kampies vir grootvee en 1,8m x 1,8m kampies vir kleinvee asook hooi vir beddegoed.
  • Vee-eienaars/veehanteerders is verantwoordelik vir eie voer- en waterbakke, asook vir die voorsiening van kos en water en vir die algemene welstand van die diere.
  • Veehanteerders kan saam met die sekuriteitspersoneel na-ure rondtes by die vee doen.
13.1.5. Skoonmaak van kampies
  • Voor 08:00 in die oggend en weer teen 13:00 moet krale reg en netjies wees. ’n Diensvoertuig sal op hierdie tye by veekampies verby ry om enige vuil hooi wat uitgesit is, te verwyder.
13.1.6. Veearts
  • Daar sal ‘n veearts vir noodgevalle op bystand wees.
13.1.7. Veehanteerders
  • Veehanteerders moet as bemanning geregistreer word. Veehanteerders wat nie vooraf geregistreer het nie, sal soos enige besoeker R120 ingangsgeld betaal.
  • Ablusiegeriewe asook ‘n stofie, tafel en gasbottel word in die veehanteerders huisvesting area voorsien.
  • Elke uitstaller is verantwoordelik vir eie kos, eet- en kookgerei, beddegoed en tente.
13.2. Kuns- en Koumark
  • Maksimum 80 uitstallers word in die Kuns- en Kou afdeling geakkommodeer.
  • Kriteria vir goedkeuring van aansoeke sluit in handgemaaktheid, oorspronklikheid, kwaliteit en die uitskakeling van oormatige duplisering van produkte, sowel as historiese beoordelings, soos die keurigheid van uitstallings. Geen Sjinese vlooimarkitems word toegelaat nie.
  • Produkte wat verkoop gaan word, moet gelys word op die aansoekvorm. Verkoop van ander produkte as gelys, mag nie sonder KragDag se toestemming geskied nie.
  • Foto's van produkvoorbeelde en stalletjie aanbieding moet opgelaai of gestuur (danielle@kragdag.co.za) word aan KragDag.
13.3. Junior Entrepreneurs
13.3.1. Alle Junior Entrepreneurs
  • Die bedoeling met die entrepreneursuitstalling is om ‘n geleentheid te bied vir die ontwikkeling van entrepreneurskap en nie vir die benutting van ‘n eenmalige geldmaak geleentheid nie.
  • Jongmense wat as entrepreneurs aan die ekspo wil deelneem moet voor 15 Junie 2026 hulle besigheidsvraelyste indien, waarna die beoordelaars sal beslis watter entrepreneurs slaag in hulle aansoeke om by die ekspo uit te stal. Voornemende deelnemers sal teen 1 Julie 2026 in kennis gestel word of hulle gekeur is om by die ekspo uit te stal. ‘n Maksimum van 30 Doelgerig en 15 Voete Natmaak entrepreneurs sal toegelaat word. (Sien die Junior Entrepreneur inligtingsdokument vir meer besonderhede.)
  • Die onderneming van die junior entrepreneur moet ‘n naam hê en kan nie bloot in die naam van die kind geskied nie.
  • Junior entrepreneurs moet al drie dae uitstal. Indien daar van die dae is wat in skooltyd plaasvind, is dit die entrepreneur se eie verantwoordelikheid om met sy skool te reël om af te vat, of om iemand te kry om by sy stalletjie waar te neem tydens sy afwesigheid. Beoordelingsgesprekke met entrepreneurs sal hoofsaaklik op die Vrydag tydens die ekspo plaasvind.
  • Die indien van ‘n Junior Entrepreneur Aansoekvorm beteken nie outomatiese goedkeuring nie, maar is, soos vir ander uitstallings, onderhewig aan goedkeuring deur die KragDag kantoor.
  • Junior Entrepreneurs wat verversings wil verkoop, sal net toegelaat word indien dit nie ander verversingsuitstallers negatief sal beïnvloed nie en, anders as vir junior entrepreneurs wat ander produkte verkoop, sal die koste vir hierdie uitstallers dieselfde wees as vir Verversingsuitstallers.
13.3.2. Voete Natmaak Afdeling
  • Om ‘n Voete Natmaak deelnemer te wees moet ‘n junior entrepreneur die verkorte besigheidsvraelys invul en aan die entrepreneurskompetisie deelneem.
13.3.3. Doelgerig Afdeling
  • Om ‘n Doelgerig deelnemer te wees moet ‘n junior entrepreneur die besigheidsvraelys invul en aan die entrepreneurskompetisie deelneem.
13.4. Verversings
13.4.1. Keuring van aansoeke
  • Kriteria vir goedkeuring van aansoeke sluit in verversingssverskeidenheid by de ekspo, keurige aanbieding, produkvraag en die uitskakeling van oormatige duplisering.
  • Produkte wat verkoop gaan word, moet gelys word op aansoekvorm. Verkoop van ander produkte as gelys, mag nie sonder KragDag se toestemming geskied nie.
  • Foto's van produkvoorbeelde en stalletjie aanbieding moet opgelaai of gestuur (danielle@kragdag.co.za) word aan KragDag.
13.4.2. Vereiste van COA sertfikate
  • Die Tshwane JOC-komitee vereis dat alle voedselhanteerders ‘n COA sertifikaat besit vir die verkoop van verversings by die ekspo. Dit is KragDag se oorwoë mening dat die vereistes niks te doen het met voedselveiligheid nie, maar met destruktiewe oogmerke en/of gevolge.
  • KragDag word egter deur Tshwane, wat blykbaar onbevoeg is om die vereistes wat hulle oplê self uit te voer, gedwing om aan verversinguitstallers COA aansoekvorms te verskaf, dit weer in te samel en die betalings namens hulle te hanteer. Tshwane dreig om ten opsigte van elke voedselhanteerder, wat nie deur die voldoeningshoepels spring nie, ‘n boete van R5 000 uit te reik aan beide die voedselhanteerder en KragDag. Ons versoek dus dat verversingsuitstallers ons help om die proses so glad as moontlik te laat verloop, deur die volgende prosedure te volg:
    • Die COA aansoekvorm HIER af te laai en voltooid vir KragDag terug te besorg by die e-posadres hieronder.
    • Daar kan gekies word tussen ‘n tydelike en ‘n permanente COA sertifikaat. Alhoewel Tshwane die reëls voortdurend verander blyk dit dat die enigste verskil tussen die tipes permitte is dat ‘n tydelike sertifikaat (R375) net vir die duur van ekspo geldig is, terwyl ‘n permanente sertifikaat (R1 050) vir alle toekomstige ekspo’s op die KragDag terrein geldig is.
    • Navrae kan gerig word aan elrina@kragdag.co.za.
13.5. Organisasies
  • Organisasies wat hulle uitstalruimte kanselleer na die sluitingsdatum of nie opdaag om uit te stal by die ekspo nie, sal die volledige fooi van ‘n tema-uitstaller moet betaal die eerste keer wat hulle weer by die ekspo wil uitstal.
  • o In ruil vir die geleentheid om gratis by KragDag uit te stal word van organisasies verwag om die Ekspo of hulle uitstalling by die Ekspo onder hulle, op sosiale media of andersins te bemark. Organisasies moet saam met die indiening van hulle aansoek ook 'n uiteensetting verskaf van hulle huidige voetspoor en beoogde bemarking in hierdie verband.