Uitstaller Reëls, Terme en Voorwaardes
Sluitingsdatum vir aansoeke
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 21 Februarie 2024.
Kansellasies En Terugbetalings
Skriftelike kansellasies sal slegs aanvaar word voor die sluitingsdatum en 'n 30% administrasiefooi sal vir kansellasies gehef word.
Daar sal geen terugbetaling van fooie wees vir kansellasies na die sluitingsdatum nie.
Spesiale versoeke na sluiting van aansoeke
Daar word op die aansoekvorm spesifiek voorsiening gemaak vir die aandui van spesiale vereistes en voorkeure. Uitstallers wat nie hiervan gebruik maak nie en dan na sluiting van aansoeke sodanige versoeke opper, loop die risiko dat hulle nie in hulle behoefte geakkommodeer kan word nie. Indien daar wel aan hulle versoek voldoen kan word, sal dit slegs geskied nadat 'n addisionele administrasiefooi van R400 betaal is.
Verbeuring van uitstalruimte
Uitstallers wat teen 9:00 op Donderdag 21 Maart 2024 nie hulle uitstalruimte beset het nie, sal hulle uitstalruimte verbeur en dit sal geherallokeer word.
Stal al drie ekspo-dae uit
Ter wille van die besoekers is uitstallers (uitgesluit junior entrepreneurs) verplig om al drie ekspo dae van 9:00 tot 16:00 uit te stal en sal nie toegelaat word om die terrein te verlaat voor Saterdag 23 Maart 2024 om 17:00 nie.
Geen oornag op terrein
Geen uitstaller of enige personeel van uitstallers sal toegelaat word om op die perseel te oornag nie. Persone wat wil oornag kan van die aangrensende kampterrein gebruik maak.
Vrywaring van Aanspreeklikheid
Deur die uitstallerbespreking bevestig 'n uitstaller dat KragDag en sy organiseerders, werknemers en kontrakteurs nie aanspreeklik gehou sal word vir enige persoonlike beserings, afsterwe van enige persoon of verlies van of skade aan enige eiendom van enige aard nie, ongeag die oorsaak daarvan.
Algemene Reëlings:
1. Allokering van uitstalruimtes:
Daar is ‘n spesifieke uitstalruimte aan elke uitstaller toegeken. Die nommer(s) van julle uitstalruimte kan jy op KragDag
se aanlyn Uitstallerstelsel vind en die plasing daarvan word op die meegaande terreinplan aangedui. Klik
HIER om op die
stelsel in te teken. Kies dan jou uitstalling en klik op "Uitstalruimte".
Voorkeurbesprekings vir bestaande uitstallers:
- KragDag uitstallers wat hulle aansoekvorms voor 12 Januarie indien en betaal, het voorkeuraanspraak op dieselfde uitstalruimtes wat hulle vir die vorige ekspo gehad het. Indien 'n onderneming nie voor hierdie datum betaal nie, al het hy sy aansoekvorm ingedien, verbeur hy die reg op dieselfde staanplek en word die uitstalruimte ook beskikbaar vir ander aansoekers.
- By 'n onderneming se betaling van sy pakket word sy uitstalruimtenommer(s) aan hom bevestig, maar kan hy as hy so verkies dit vir ‘n ander beskikbare uitstalruimte verruil.
- Bogenoemde reëling sal onderhewig wees aan sekere strategiese oorwegings van KragDag, soos die akkommodering van borge en langdurige of permanente vennote op voorkeurliggings.
Toekenning van uitstalruimtes:
- Met uitsluiting van die voorkeurbesprekings hierbo, word uitstalruimtes op 'n eerste-betaal basis toegeken en sal sover moontlik gepoog word om uitvoering te gee aan liggingsvoorkeure, maar met die beperkings soos hieronder uiteengesit.
- Ondernemings wat enkel-uitstalruimtes bespreek het, sal nie op hoekstalletjies geallokeer word nie.
- Vir ondernemings wat twee of drie uitstalruimtes bespreek het en op ‘n hoek wil staan, sal net een van die uitstalruimtes op ‘n hoek geakkommodeer word, indien daar nog geskikte hoekuitstalruimtes beskikbaar is.
- Ondernemings wat vier of meer uitstalruimtes bespreek het, se uitstaltruimtes kan twee hoekuitstalruimtes insluit, indien daar nog geskikte hoekuitstalruimtes beskikbaar is.
2. Lewering van faktuur:
Die lewering van 'n faktuur is nie 'n versekering van 'n plek nie. Enige onderneming wat teen die sluitingsdatum van die aansoeke nog nie sy uitstalfaktuur betaal het nie, of 'n reëling getref het nie, kan sy plek verbeur en kan KragDag sy uitstalruimte herallokeer aan 'n ander uitstaller.
3. Registrasie van julle uitstalbemanning:
Bemanning kan geregistreer word via die Waantu Stelsel. Gebruik die koeponkode skdwk-bem24 vir gratis kaartjies.
4. Toegang van uitstalbemanning tot die terrein:
Uitstalbemanning wat nie vooraf geregistreer het nie, sal soos enige besoeker R120 ingangsgeld betaal.
5. Slaan reeds Woensdag of selfs vroeër op:
Ten einde die gedrang van die ekspo-oggend te vermy, word uitstallers aangemoedig om hulle uitstallings reeds op Woensdag 20 Maart of selfs vroeër in die week op te slaan. Dit is veral ‘n vereiste indien julle watertenks of geisers moet volmaak, aangesien die waterkapasiteit op die terrein beperk is (en dit sommer geleentheid gee vir die geiserwater om warm te word). Julle uitstalling is veilig in die hande van die wagte wat Maandag- tot Sondagaand sal omsien na die terrein.
6. Groot toerusting:
Alle groot toerusting moet asseblief Maandag 18 of Dinsdag 19 Februarie reeds op die terrein afgelewer word ter wille van terreintoeganklikheid.
7. Open van hekke vir uitstallers:
Op Donderdag 21 Maart tot Saterdag 23 Maart sal die hekke vir die uitstallers om 6:00 open.
8. Aanmeldingspunt:
Met aankoms moet julle bemanning by die toegangshek aanmeld en indien nodig sal hulle bygestaan word om by hulle uitstalruimte uit te kom.
9. Verkeersvloei:
Parkeer asseblief so dat julle nie die verkeersvloei blokkeer nie. Nadat julle afgelaai het, kan julle die pyle verder volg en die ekspo-terrein verlaat na die parkeer area suid van die terrein.
10. Uitstaller parkeerruimte:
‘n Spesiale parkeerterrein word vir uitstallers net suid van die ekspoterrein opsy gesit.
11. Verwydering van uitstallersvoertuie:
‘n Ernstige beroep word op uitstallers gemaak om voertuie slegs af te pak en die voertuie dan onmiddellik buite die terrein te gaan parkeer, voordat julle uitstalling klaar opgeslaan word. Geen voertuig sal na 07:00 op die terrein toegelaat word nie en alle voertuie moet teen 07:30 van die terrein verwyder wees. Uitstallers wat teen 08:00 nie opgedaag het nie, sal hulle plek verbeur.
12. Hou by die uitstalruimtegrense:
Wees asseblief konsidererend teenoor julle mede-uitstallers en hou binne jou onderneming se uitstalruimtegrense. Moet asseblief nie enige toue in die loopvlak span waar die besoekers loop nie.
13. Reën:
Alhoewel die ekspo nie in die reënseisoen plaasvind nie, is dit 'n opelug ekspo. Maak asseblief die nodige voorsienings ingeval van reën.
14. Wees versigtig vir waterpype:
Die ligging van ondergrondse waterpype word met rooi verflyne op die gras aangedui. Moet asseblief nie penne binne 50cm van die lyn inslaan nie.
15. Kragpunte:
Slegs uitstallers wat op hulle aansoekvorms vir krag aansoek gedoen en daarvoor betaal het, sal van ‘n kragpunt gebruik mag maak. Kragpunte word met rooi kolle op die terreinplan aangedui – gebruik dit om te bepaal hoe ver die naaste punt van julle uitstalruimte is. Bring asseblief ‘n eie verlengkoord saam om jou uitstalling met die kragpunt te verbind – ‘n 20-meter koord behoort in meeste gevalle voldoende te wees. KragDag se elektriese span sal alle elektriese koppelings kontroleer vir veiligheid.
16. Tafels:
Tafels (ongeveer 1 800 x 700 mm) sal slegs voorsien word aan uitstallers wat vooraf daarvoor bespreek het. Uitstallers kan tafels kom afhaal by die Inligtingstoonbank en moet dit weer daar kom terug handig na afloop van die ekspo. Indien tafels nie terug ingeboek word by die Inligtingstoonbank nie of beskadig is, sal die uitstaller verantwoordelik wees vir die vervangingskoste van die tafel.
17. Wateraansluitings:
Waterpunte word met blou kolle op die terreinplan aangedui. Maak asseblief geisers en tenks reeds teen Woensdag vol.
18. Brandbeskerming:
Ons moedig uitstallers aan om as deel van ons self- en mekaarhelp brandplan elkeen 'n brandblusser by sy uitstalling te hê. Vir kosstalle wat met oop vlamme werk, is 'n brandblusser verpligtend en word ’n brandkombers aanbeveel. Alhoewel KragDag intensiewe voorsorg teen brandmoontlikhede tref, word ’n beroep op uitstallers gedoen om bystand te verleen met die bestryding van enige brand wat op die terrein mag ontstaan.
19. Vullisverwydering:
Elke uitstaller word versoek om sy eie swartsakke saam te bring en gevulde swartsakke na 17:00 in die middag voor hulle uitstalruimte te laat (moet asseblief nie vol swartsakke in die terreinasblikke plaas nie). Die swartsakke sal voor die oopmaak van die ekspo die volgende oggend verwyder word.
20. Betalingsfasiliteite:
Daar sal een mobiel OTM wees en daar sal ook internet bankkdienste by die inligtingstalletjie beskikbaar wees, indien daar besoekers is wat elektronies wil betaal vir produk aankope.
21. Kampeergeriewe:
Geen persone sal toegelaat word om in die ekspoterrein te oornag nie. Ons het ‘n kampeerterrein (vooraf besprekings is noodsaaklik), bespreek gerus hier.
22. Open van besoekershekke:
Die hekke open om 9:00 vir besoekers – uitstallers se uitstallings moet dus 08:30 gereed wees om die besoekers te ontvang.
23. Vasbyt tot 16:00:
Uitstallers mag hulle uitstallings eers na 16:00 op Saterdag 23 Maart afbreek en van die terrein verwyder en daar sal geen motors voor 16:00 op die uitstalterrein toegelaat word nie, met uitsondering vir die veerasuitstallings, wat van 15:00 hulle vee met voertuie kan verwyder. Daar word ‘n ernstige beroep op uitstallers gedoen om hieraan gehoor te gee uit respek vir ons laatmiddag besoekers.
24. Terreinveiligheid:
Daar sal Saterdagaand en Sondagaand wagte aan diens wees. Uitstallers mag nie hulle eie wagte op die terrein laat oorbly nie, maar indien jy 'n statiese wag by jou uitstalling verlang, kan KragDag se diensverskaffer vir jou 'n wag voorsien. Skakel met die KragDag kantoor om dit te reël.
25. Afbreek van uitstalling:
Uitstallers is welkom om hulle uitstalling eers Maandag (die 25e) te kom afslaan. Alle stalletjies moet volledig verwyder wees teen Dinsdag 26 Maart. Laat asseblief jou uitstalruimte netjies agter, en let spesiaal op om enige kabelstroppe (cable ties) of sigaretstompies te verwyder.
26. Help die ekspo groei:
Nooi jou kliënte en kennisse uit om die ekspo saam met julle te kom geniet.
27. Vrywaring:
Soos in die uitstaller besprekingsvoor-waardes uiteengesit, sal KragDag en sy organiseerders, werknemers en kontrakteurs nie aanspreeklik gehou kan word vir enige persoonlike beserings, afsterwe van enige persoon of verlies van of skade aan enige eiendom van enige aard nie, ongeag die oorsaak daarvan en word dit ook nie deur KragDag se publieke aanspreeklikheidsversekering gedek nie. Indien verlang is versekering teen sodanige risiko’s elke uitstaller se eie verantwoordelikheid.
28. Inligtingstoonbanke:
Indien daar enige onsekerheid bestaan, of hulp benodig word, besoek asseblief die Inligtingstoonbanke (gemerk op die kaart met ‘n “I”).
Landbou-subekspo Reëlings
Vee-ras Tentoonstelling Uitstallers
1. Gesonde diere:
Geen siek diere sal op die terrein toegelaat word nie. Die Biosekuriteit-Veeartsverklaringvorm moet deur alle veerasuitstallers ingevul en by die Landbou-ekspobestuurder ingehandig word.
2. Aflaai van vee:
KragDag voorsien mobiele laaibanke en krale.
3. Diereversorging:
KragDag voorsien hooi. Boere is verantwoordelik vir eie voer- en waterbakke. Diere moet te alle tye van kos en water voorsien word. Veehanteerders is te alle tye verantwoordelik vir die welstand vir vee en moet saam met die sekuriteit na-ure rondtes by die vee doen.
4. Skoonmaak van kampies:
Voor 08:00 in die oggend en weer teen 13:00 moet krale reg en netjies wees. ’n Diensvoertuig sal op hierdie tye by veekampies verby ry om enige vuil hooi wat uitgesit is, te verwyder.
5. Veearts:
Daar sal ‘n veearts vir noodgevalle op die terrein beskikbaar wees.
6. Veehanteerders:
Veehanteerders moet asseblief ook as bemanning geregisteer word. Veehanteerders wat nie vooraf geregistreer het nie, sal soos enige besoeker R120 ingangsgeld betaal. Ablusiegeriewe asook ‘n stofie, tafel en gasbottel word in die veehanteerders huisvesting area voorsien. Elke uitstaller is verantwoordelik vir eie kos eet- en kookgerei, beddegoed en tente.